Saturday 7 February 2015

Psalm for Ludwig



Op die maat van die 6de Simfonie en goeie ‘n Merlot, Tafelberg, die Swart Suidooster, musiek en menswees.

‘n Psalm vir Ludwig

Hulle dag hy’s doof, die man met die vuursteen hart
en die persoonlikheid soos skurwe ystervylsels.
Tog hoor hy die klanke wat vir ander deur
die gleuwe tussen note val
en die fyns’t gespinde drade van menssiel weef tot
‘n veelkleurge Josefskleed van bestaan.

Hul dag hy’s stom, die man met die wilde hare
en die doodsmasker blik in sy oë.
Maar met inkpot en veer en sy vyf-lyn-papier
word sy eie siel verfkwas ,
en praat hy op God se manier.

En hulle dag hy’s dom,
met sy snaakse stap,
sy selfspraak, vinnige vloek,
en sjarme van koue beton.
Tog is sy hand vadersag,
spreek hy tot die wereld in taal
wat die slegs die ewigheid toekom.

Hulle dag hy’s wild,
en hulle was reg.

Sy dae was getel by geboorte
en die res was…
…was alleen,
 verwilderd,
 binne homself,
 worstellend
met geesgedagtes groter as die mensdom…
Altyd eg.
Sela

Amper drie honderd jaar is verby
en nou is die vervloekte ‘n erfenis.
Ons reik na hom -
die man met die wilde hare,
met patetiese swartbord en kryt,
stom,
doof,
mal,
met sjarme van beton
en ‘n hart vol verwyt.

Want hy hoor die note en ken die stryd
wat vir meeste deur die krake val.
Wat ons mis
en laat smag,
teug,
en hyg,
na sy Josef’skleed,
en die dowe oor van hom
wiese klanke die ewigheid toekom.

No comments:

Post a Comment